Wednesday, August 9, 2017

He will never let the righteous fall

Dear Gracefilled Lillies,



It is wonderful to see how God brings about the change in seasons. The Clivia's in my mom's garden is already blooming and it looks like Spring is about to burst open. Even though I still wear my fleece pajamas and socks and early mornings are chilly, the weather in Pretoria has been absolutely perfect!

WOMEN'S DAY 2017


...and so this year is more than half way over and already we are at WOMEN'S DAY! Can you believe it? Well, I hope that this day is filled with laughter and rest and blessing and maybe a little "being creative".

This morning God woke me really early..before 7AM. Yes, that is early for me. As a teacher I use to wake up at 6:00 to be in time for school's tart at 7:15. That meant that I had to dress and get everything done in a rush and face the traffic while driving to work. As a night-owl I am at my best and most creative late at night and was use to going to bed well after 22:30. So for years I was also accustomed to very little sleep. Not so good. So since leaving mainstream teaching behind, I am able to go to bed when I am ready and done with my day...I try to stick to 24:00 at the very latest and then start my day a little later in the mornings, so this morning was the exception to my new status quo. 7AM. I felt God calling me to my studio and this little girl made her way to my handmade notebook that I shared on Instagram and Facebook earlier this week.

The verse I illustrated was Psalm 55:22 and is a favourite of mine. It is also Joyce Meyer's husband, Dave's go to verse in every situation.

So as this is Women's Day and I know that most of you, like me, are heavy laden with loads of burdens and challenges and chores, let this be a reminder that when we cast our cares and burdens on to Jesus, that because He cares for us, He will take it on to Him and give us new strength. When you feel like you want to give in under life's pressures, take heart and know: "He will never let the righteous fall".



So, HAPPY WOMEN'S DAY all!




Monday, July 24, 2017

Jou kreatiwiteit tot God se eer - Radio Kansel Onderhoud

Dear Gracefilled Lillies/Liewe Genade-vervulde Lelies,


(This post is in Afrikaans)

Hierdie is die teks wat ek voorberei het vir die Radio Kansel onderhoud waarna Christine Ferreira, Redakteur van die Lèèf Tydskrif (nou aanlyn hier beskikbaar), my genooi het. Luister hier na Christine se program op Radio Kansel elke week: www.radiopulpit.co.za






Die onderhoud vind Dinsdag, 25 Julie 2017 plaas tussen 9:00-11:00. Daar sal ook verskeie ander dames wees wat saam gesels, so ons mag dalk nie by al hierdie inhoud uitkom nie. Nogtans deel ek dit hier sodat dit as getuienis dien en iemand se hart kan versterk.





Christine: 
Genesis 1:1 “In die begin het God die hemel en die aarde geskep.” Die eerste sin in die Bybel handel oor kreatiwiteit. God as Skepper.Kreatiwiteit is ‘n Godgegewe talent. God seën ons elkeen met kreatiwiteit. Sommige meer as ander natuurlik! Kreatiwiteit kom in verskillende gedaantes. En meeste van ons hunker daarna om hierdie kreatitwiteit te kan uitleef.


Vraag 1:
Ansu, hoekom is kreatief wees vir jóú belangrik en hoe kan ons as kinders van God ons eie kreatiwiteit tot volle potensiaal laat kom?

Ek is bly jy het begin by die Begin, Christine. Ek glo God is die Oorsprong van alle menslike kreatiwiteit.

Hy besit die kopiereg op elkeen van ons en op alles wat ons doen. Sy Woord sê dat Hy ons na Sy beeld geskape het. Ek glo derhalwe dat almal ‘n mate van kreatiwiteit ontvang het.

Jy kan dit verwoord as “’n deeltjie van God” in elkeen van ons. Ek glo, omdat ek oor tyd dit so baie by ander al gehoor het en self skuldig was aan dieselfde denkpatroon dat meeste mense ‘n leuen glo oor kreatiwiteit, dat hul nie dink hul is kreatief nie, kan nooit wees nie of dat as hul wel besef hul het kreatiwiteit in hulle, hulle aangemoedig is deur omstandighede of ander om dit onder ‘n maat-emmer te sit en dit word nooit ontgin nie.

Dan is daar natuurlik die trappe van vergelyking wat ons almal al een of ander stadium geklim het. “Ek sal nooit so kreatief kan wees soos jy nie” of “Hierdie persoon se kuns is beter as daardie een sin”. Die vergelyking wat ons tref om een kreatiewe persoon met ‘n ander te vergelyk is ‘n strik wat die vyand vir ons stel. Dit vernietig die begeerte om self te skep, dit is nie gebaseer op die waarheid nie, want wat dit eintlik is, is om appels met pere te vergelyk.

Twee mense kan kreatief wees, maar elkeen van hulle het sy eie unieke duimafdruk en gawes en temperament ontvang en ook met elkeen het God ‘n unieke plan. Elkeen mag ook dalk op ‘n ander ontwikkelings punt wees met hul kreatiwiteit. Hoe kan mens dus vergelyking tref. Dit doen soveel skade.

As onderwyser was dit een van die dinge wat ek telke male in my klaskamer gesien het en moes aanspreek dat kinders hul nie met hul maats vergelyk en dan ophou probeer nie. Sekere outjies onderpresteer want hul sien nie hul potensiaal nie, het nie ouers wat hul aanmoedig nie, maar eerder afbreek. Dit was my werk en is ook my passie om die leuens van die duiwel oor ons lewens te ontbloot en die waarheid aan die lig te bring:

  • ·         Ja, ons is almal na God se beeld geskep.
  • ·         Ja, ons kan almal kreatief wees, want God is kreatief.
  • ·      Nee, die een persoon is nie meer kreatief as die ander nie, want ons is nie kopieë van mekaar nie, maar unieke skepsels geskape deur ‘n unieke Vader wat ons nie in ‘n boksie kan sit nie. Soms dink ek omdat ons nie God werklik kan beskryf nie, of in ‘n netjiese boksie kan plaas nie, probeer ons dit met mekaar doen en dit doen soveel afbreek aan Sy plan met ons elkeen. Daarom is ek passievol oor kreatiwiteit en die uitlewing daarvan.

  


Hoe kan ons ons kreatiwiteit tot volle potensiaal laat kom?
1.       Besef dis nooit te laat om te begin nie.

2.       Besef ook dat as jy soos so baie mense dit vir jare ontken het, nie geglo het jy kon nie, dit binne in jou toegesluit is.  Dis is daar maar jy het denkpatrone daaroor gevorm en jy sal doelbewus en aktief nuwe denkpatrone hieroor moet vorm en vir God vir die sleutel vra om dit te gaan soek diep binne jou en dit oop te sluit. ‘n Nuwe denkpad in jou brein word gevorm die oomblik dat jy ‘n nuwe gedagte koester, en ten minste 7 x herhaal. Sidaar: ‘n nuwe pad in jou brein. Die ou paaie dat jy nie kreatief is nie, is vir baie jare dalk verleng en oor en oor bevestig en jy sal dit moet verbysteek met nuwes.

Dit het my ‘n paar jaar geneem om werklik te hou by my voorneme om voluit in my kuns te belê. Ek moes nuwe denkwyses kweek en inoefen. Die eerste wet van leer is: herhaling. Ek lê klem hierop, want dit is so ‘n groot hekkie om te oorkom as jy nie eers dink jy is kreatief nie, gaan jy nie kreatief kan wees nie.

3.       Goed, kom ons sê jy is oor hierdie hekkie. Volgende moet jy jou “huiswerk” begin doen. Jy moet op ‘n soektog gaan en om dit sinvol te maak, begin deur jouself ‘n paar vrae te vra:

·         Wat geniet jy om te doen?
·         Wat kom natuurlik vir jou?
·         Wat doen jy spontaan al van kleintyd af?
·         Waarin stel jy belang?
·         M.a.w. “Wie is jy?”
·         Vra ook sommer die mense naaste aan jou die vrae. Hul antwoorde kan dalk insiggewend wees.

Begin dan ‘n lysie van dinge wat jy graag sou wou leer doen en raak nuuskurig daaroor. Kosmaak, Handwerk (Naaldwerk, Boorduur, Hekel, Brei), Tuinwerk, Skryf of Dig, Teken en Skilder, Binnehuise versiering, Een of ander vorm van ontwerp. Enige iets wat jou trek – begin daaroor lees. Die internet is jou biblioteek. Bemagtig jouself met kennis. Lees, kyk video’s, ens.  Dis ‘n begin.

Kom ek gebruik myself as voorbeeld: (Onderwysers hou daarvan om wat hul sê met voorbeelde te staaf)

Ek skryf gedigte wat ek hoop getoonset kan word, ek is lief vir musiek en sing van ek kan onthou. Ek is lief vir mense en het ‘n gawe vir woorde ontvang. My breinprofiel sê ek moet betaal word om te praat. Ek het begin dig op 15 en het al verskeie kortverhale geskryf. Ek het verskeie blogs wat ek aan die gang hou, so skryf is ‘n natuurlike uitvloei van my woorde-talent. Ek hou van kosmaak, ek kan naaldwerk doen en hou van die ontwerp proses. Ek het op ‘n stadium krale werk gedoen, maar dit het my frustreer. Ek het brei en hekel uitprobeeer, maar dis ook nie my ding nie. Ek het verskillende kuns mediums uitprobeer oor jare, maar kon nie besluit op watter medium om op te fokus nie totdat ek “Mixed Media” (Gemenge Media) ontdek het. Hierdie konsep het my soos ‘n handskoen gepas. Hoekom moet ek kies as ek die reëls kan breek en verskillende mediums kan meng met mekaar? Ek het ook ‘n liefde vir mooi papier van ek ‘n dogtertjie was en ek is ‘n kaartjie maker. Ek is ook ‘n “memorykeeper & scrapbooker” van kleins af. Ek hou van portret studies omdat ek ‘n mens-mens is. Paar jaar gelede het ek met my eie unieke kunswerkies begin waar ek mooi papier, akriel verf, pen, potlood meng en vroulike gesiggies verf. Ek het aan my eerste groeps uitstalling deelgeneem in 2014 saam met ‘n paar ander plaaslike kunstenaars by die Saxonwold gallery.  Dit was baie opwindend om aan so iets deel te neem vir die eerste keer.















Hoe het ek begin? Ek het baie ander mixed media kunstenaars begin bestudeer en baie geleer, maar op die ou end was die resultaat my unieke duimafdruk. Ek beklemtoon dit  net weer dat  mens nie moet vergelyk nie en ek wil graag illustreer hoekom nie. In my studie van ander vroulike mixed media kunstenaars, het ek iets agtergekom. As jy ‘n foto van elke kunstenaar neem en dit langs hul kuns plaas, en jy tref nie vergelyking tussen een kunstenaar en ‘n ander nie, maar eerder tussen die kunstenaar en sy of haar eie kuns, dan sien jy dit. Die kuns reflekteer die kunstenaar en sy uniekheid. Die poppies wat elkeen van daardie kunstenaars geskilder het, het soos hulle skepper gelyk.  Eienskappe van die kunstenaar se wese het vir my terug gekyk en van toe af kyk ek anders na my eie kuns.  Dis uniek tot my en God het dit so bedoel en nou  geniet ek elke oomblik.

4.       Laastens, versamel idees deur navorsing. Picasso het gesê, jy steel met die oog en Einstein het gesê: die sleutel tot kreatiwiteit is om nie jou bronne openbaar  te maak nie. Ons oë neem soos ‘n kamera alles in waarna ons kyk en liaseer dit in die brein. Dit wat ons inneem, word deel van ons verwysingsraamwerk. Dis dan ook belangrik om versigtig te wees met wat jy inneem, want dit het ‘n impak op jou kreatiwiteits uitlewing of kuns.

Neem nou al die idees wat jy versamel het en begin dit uit probeer. Speel daarmee totdat jy jou eie duimdruk vind en dan spandeer jy tyd om dit te ontwikkel.

Vir my persoonlik is dit belangrik dat al hou ek my besig met dinge wat ander ook doen soos om te skryf of skilder, moet dit my uniekheid reflekteer. Dit moèt anders wees, want ek is anders. Die wete gee vir my vreugde.

Die oomblik as jy jou uniekheid, jou andersheid kan omhels, dan bring jy God eer en kom Sy plan vir jou tot volle potensiaal. As jy nie eers probeer nie, of ander slaafs na-aap, mis jy die punt en ek persoonlik dink dit breek God se hart.

Elkeen van ons is ‘n spesiale teëltjie in God se groot Mosaïk en ons het ‘n plekkie waar ons presies inpas. Kreatiwiteit is die voertaal waarmee ons vir God sê: ons sal Hom groot maak, ons sal die waarheid oor ons potensiaal en doel in die lewe, glo en nie die leuen nie. Ons sal voluit leef in die oorvloed lewe wat Jesus ‘n duur prys voor betaal het.  Dit is hoekom kreatiwiteit vir my belangrik is.





Vraag 2:
Vertel ons meer van die kreatiewe werk waarmee jy jou elke dag besig hou?


Ek het begin as onderwyser, maar as kind gedroom van modeontwerp. Later as volwassene, toe my beroep my begin uitbrand, het ek my genetiese breinprofiel laat toets in die hoop dat ek ‘n alternatief sou kon vind. Dit het sekere dinge oor my natuurlike funksionering uitgewys o.a. dat ontwerp ‘n absolute natuurlike denkproses by my is.

As onderwyser is dit deel van jou taak om leer-inhoude te skep en dit is ‘n ontwerp proses. Ek het Kuns en Kultuur as vak begin onderrig en my hoof het opgemerk dat my wese geblom het toe ek hiermee begin. Ek was betrokke by die kultuur aktiwiteite by elke skool waar ek gewerk het en oral het my kreatiwiteit na vore gekom en kon dit oor tyd ontwikkel deur die bloodstelling aan hierdie aktiwiteite. Ek het gehelp revue konserte afrig, groentjie konserte skryf en afrig, kunstefeeste reël, skoolkoerante ontwerp en redaksioneel bestuur, bemarkings materiaal ontwerp ens. My belangstelling in grafiese ontwerp en al hierdie bloodstelling oor 20 jaar sou later vir my die uitkoms bied weg van die onderwys af. Die Here het geweet ek het aan die einde van ‘n seisoen gekom en het lank voor dit reeds my begin voorberei. In 2008 het ek besluit om die onderwys te verlaat. Daarna sou ek ‘n paar keer weer probeer, maar dit was nooit weer dieselfde nie.

Vir bykans ‘n dekade al het die Here vir my gelei op ‘n heel nuwe avontuur met my huwelik en ‘n nuwe status quo in my werkslewe. Vandag is ek mede-eienaar en algemene bestuurder van Ivytree Studio. Dis ‘n ontwerp studio hier in Pretoria en ons fokus op die ontwerp van kwaliteit produkte en inhoude vir die kreatiewe gemeenskap en industrieë in SA. Ivytree Studio het eintlik al in 2000 tot stand gekom, met heelwat projekte en besigheids kliënte vir wie ons werk gedoen het, maar kon eers tot sy reg kom toe ek en my man ‘n paar jaar terug ons weer kom vestig het in SA.



Ek is ook baie gelukkig om geseënd te wees met ‘n kunstenaar sussie, Surita as vennoot wat saam met my die pad kan loop. Sy het ‘n ongelooflike talent en ek sê altyd sy is Ivytree Studio se “geheime wapen”.








Ons is tans besig met verskeie projekte, waarvan Ivytree Elements ons papier reeks, een is. Ons ontwerp mooi scrapbook papier in ‘n standaard grootte en in ons eerste jaar hiermee het ons reeds 6 reekse agter die blad. Ons het ook ‘n aanlyn winkel en lewer landswyd af. Die papier is iets waarop ons ons kuns kan reflekteer en dit wat vir ons mooi is in die lewe en dit is ook ‘n manier waarop ons ander kan bemoedig en inspireer.  Elke vel papier word met baie liefde en passie ontwerp. Ons bring ook Afrikaanse elemente in elke reeks uit wat ons uniek maak en ons poog dat ons temas by die Suid-Afrikaanse mark en kutuur pas. Ek het nogal ‘n ding daaroor dat my plakboeke moet my leefwêreld en eie kultuur reflekteer.






Tipies in my aard kan ek nie vashaak net by een projek nie en is altyd besig met iets nuuts. Van die ander projekte waarmee ons besig is, is onder andere Happy go Artsy werkswinkels en klasse waar ons klas-gangers bloodstelling gee aan dinge soos ons Mixed Media kunswerke, scrapbooking, kaartjies maak  ens. Dit is dan ook hier waar ons met ons mooi papier speel en waar my onderwys ervaring handig te pas kom.

Ons ontwerp ook digitale produkte van scrapbook kits, kaartjie kits, dagboek/planner produkkies ensomeer. Ons droom van ons eie unieke skryfbehoefte reeks. Die konsep is eintlik maar enige iets waarop ons ons kuns kan plaas. 




Ander projekte wat meer persoonlik is, is Kaleido Kuns Terapie wat reeds sy eie webblad het. Dis deur Kaleido wat ek die Hoog Sensitiewe en Kreatiewe gemeenskap wil dien met Kuns terapie en hulp wanneer die wêreld te hard vir hul raas. 



Dan laastens is daar die GraceLilly werkswinkels wat ons in hierdie onderhoud oor sal gesels. Hier is fotos van hoe lekker die dames gesit en skep het tydens ons eerste werkswinkel in Junie vanjaar: 












Hier het die Here na afloop van my aanbieding, wat ek oor getuig het vir een van die dames, Christelle Hartzer, 'n skrifgedeelte gegee om dit te bevestig wat ek besig was om vir die dames te leer. Prys die Here vir Sy getroudheid. 

God se Woord is die Huis waarin ons moet woon.



Die uitdagings in hierdie huidige ekonomiese klimaat is maar soms stresvol  en vir kunstenaars om deur besigheid, ‘n lewe te probeer maak, is nie al dag maklik nie. Die Here leer ons egter om in noue afhangklikheid met Hom die pad saam te loop.



Vraag 3:
Jy span kreatief wees in om in gesprek met God te tree en as’t ware ‘n tasbare vorm van gebed te word. Vertel ons meer van jou persoonlike reis hieromtrent.

Dis ‘n byna 18 jaar storie, maar ek sal my bes probeer om dit op te som.




Op 9 het ek my eerste gebed vir my lewensmaat gebid. My pappa, wat ‘n baie belangrike rol nog altyd in my geestelike pad met God speel, het een aand voor slaaptyd in my kamer kom nagsê en ‘n stelling gemaak. “Het jy geweet dat jy nou al vir jou lewensmaat kan begin bid?” Ek kan nie onthou wat ek gebid het nie, maar dis waar dit alles begin het.




Ek was ‘n skaam meisie en seuns was nie hoog op my prioriteits lys nie. Veral nie nadat ek in Graad 7 erg geterg is deur een outjie nie. Dit het my baie onstel en toe ek raad vra by my pa, het hy met groot wysheid dit uitgewys dat al wat ek hoef te doen is om die mannetjie te ignoreer, want seuns van daardie ouderdom wat van ‘n meisie hou, tree so op. Eerder as om hul ware gevoelens te deel, terg hulle die meisie wie se aandag hul begeer. Ek het nie gedink my pa weet waarvan hy praat nie, maar ek was raadop en probeer dit toe. Die kind het dadelik opgehou met sy tergery. Dit was my eerste les oor die teenoorgestelde geslag. Ek het nooit op skool belang gestel om ‘n kêrel te hê soos my maats nie en na my bekering op 15 het ek gereeld getuig dat ek wag vir daardie een man wat God vir my gaan uitkies. In my mid 20’s het ek tog vir die eerste keer verlief geraak en vir 3 jaar my hart belê in die hoop dat die Here die man vir my sou gee. Ek was oortuig dit was die man van my drome, maar die Here het van beter geweet en op ‘n baie spesifieke oomblik het Hy my van die houvas wat dit op my hart gehad het bevry. Ek was steeds onaangeraak en God het my bewaar vir iemand anders.




Dit was 2000. Ek was reeds 27. Ek het altyd gehoop dat ek darem teen 25 al getroud sou wees. Meeste van my vriende was min of meer al getroud en het met gesinne begin. Dit het toenemend gevoel dat ek begin agter bly. In advies van my pa en nog iemand, het ek ‘n “droomboek” begin waarin ek meer spesifiek en gefokus kon bid vir my lewensmaat en ander drome. My pa is die een by wie ek my plakboek-genygdheid ge-erf het. Hy doen al jare sy Bybelstudie op hierdie wyse deur tydskrifte ens te gebruik om God se Woord aan Hom te illustreer. My pa is ook ‘n bidder en gebedsendeling. Onderwysers het nie baie geld vir allerhande dinge nie en jy leer om te gebruik wat jy het. Ek het toe sommer in ‘n gewone skoolboek begin. Ek het aanvanklik nie baie gedink oor die “hoe” van die proses nie. Ek het net gevoel dit moet meer wees as net ‘n joernaal van my gedagtes. Dit het my gebede op papier bevat, konkreet en God se Woord as fondasie om dit krag te gee. Ek wou sien hoe lyk my drome en daarom het ek dit ook geillustreer deur prentjies en teks uit tydskrifte by te voeg. Dit moet visueel wees, want ek dink in prentjies. Die boek het ontwikkel oor ‘n 17 jaar periode tot ‘n baie kragtige gebedsstrategie. Ek trek al by my 3de boek. Die resultate daarvan ‘n werk wat God doen in my deur hierdie proses. Jy sien, vir die Here gaan dit meer oor Sy verhouding met my en myne met Hom en om deur die proses met my intimiteit te bou. As ek dan kies om my verhouding met Hom te prioritiseer, sal Hy deur Sy Woord en Gees die regte drome in my hart lê EN my soontoe lei.
 
Oman Desert 2008

Die Here het uiteindelik my droom man gebring, maar Hy het gevra dat ek Hom 8 jaar lank vertrou en geduldig wag vir Sy beste sonder dat ek altyd kon sien of dit wel sou gebeur. Ek het Isak en Rebekka se verhaal gekies om in my droomboek in te werk as die tipe verhaal wat ek graag so wou hê. Ek het tot ‘n gedig daaroor geskryf. Die Here het dit net so gegee. Ek moes soos Rebekka, God ten volle vertrou dat as Hy my in die “woestyn” in lei, sal Hy die regte “Isak” vir my gee en Hy het. In 2008 op wonderbaarlike wyse het God my man gegee, maar ek moes my werk bedank, my sekuriteit opgee, my kar verkoop, my familie onbepaald agter laat en letterlik in ‘n fisiese woestyn in die land van Oman (Midde Ooste) my man gaan haal. Ons het reeds vroeër in SA ontmoet, maar Henry het werk gekry in Sudan en toe later Oman en ons moes maar so via die internet kommunikeer. Die Here het gevra ek moet in geloof spring. In Desember 2008 is ons toe terug in SA getroud. Nog iets wat wys hoe God in die details is, is dat ek altyd gehoop het ek kan my maat ten minste ‘n volle jaar ken voor ons trou. Ek en Henry het in Januarie ontmoet en ons is in Desember getroud. Ons het dit nie so beplan nie, maar God het dit so laat uitwerk. Hy het ons storie geskryf, nie ek nie.





Daar is baie detail wat ek uitlaat, maar ons storie stop nie hier nie en daarom is die droomboek steeds so belangrik, want wat ek geleer het is hoe kragtig en belangrik is gebed saad in die grond. Dit neem soms jare vir daardie oes om te realiseer. Die wag tyd en bid tyd is egter net so belangrik soos die oes tyd. Daar gebeur baie in die wag tye. Ons karakters word gebou in die wag tye en God berei ons voor vir die oes tye. Dit was ook so in my geval.

Meeste vrouens droom ook net oor die rok en die mooi dag en die regte blomme ens. Daar is wel ‘n afdeling hiervoor in my boek, maar vir my was dit nooit die rede vir die boek of die fokus nie. Dit was nog altyd vir my belangriker om seker te maak dat dit die regte maat is. Die ander dinge het tog eintlik geen ewigheidswaarde nie. Nog belangriker vir my was dat die Here die finale keuse uitoefen, want as jy vir God die keuse oorlaat, gee Hy altyd vir jou die heel beste. Ek het besef as ek moet kies, sal ek dalk verkeerd kies.


Vandag is ek oortuig daarvan dat my jare se gebede vir my eggenoot, my wag en trane en bid in daardie boek, baie belangrik was in tye wat Henry dit baie nodig gehad het en dit was alles toe ek nog nie eers sy naam geken het nie. Iewers was daar iemand wat vir Hom gebid het en baie spesifiek ook. God het my getrouheid en passie gebruik om vir hom in te tree en dit het hom beskerm en hom terug gelei na God en Sy hart vir hom. Vandag leef my man as geredde kind van God met sy doel veilig opgesluit in die Here en ons kyk met opgewondenheid na die toekoms omdat ons saam oppad is met die Here. My man is ‘n man na God se hart en hoe nader hy aan die Here kom, hoe nader groei ons aan mekaar. Ons is nou byna 10 jaar getroud en die volgende droom is kindertjies van ons eie en op 43 lyk dit soos ‘n onmoontlike droom,  maar ons glo steeds die Here kan die onmoontlike doen en ‘n pad in die see van onmoontlikheid gee, waar daar nie ‘n pad is nie.


Omdat die droomboek-pad so ‘n ryk ervaring vir my was, en my geloofslewe verryk en gevorm het, en omdat ek ook voel God roep my hiertoe, wil ek graag wat ek geleer het met ander deel om hul ook in hul eie pad met die Here te versterk. Daai stem in jou hart wat sê: “Nou goed, nou gaan deel jy dit met ander.”



VRAAG 4:
Jou “My lewe in ‘n plakboek”-werkswinkels is ‘n spesiale werkswinkel waartydens jy deelnemers op ‘n kreatiewe geestelike reis neem. Vertel ons meer?

GraceLilly is die handelsmerk waaronder ons hierdie werkswinkesl aanbied en dit word aangebied deur IvytreeStudio. Betekenis van “GraceLilly”:Dit is eintlik maar net my naam wat “genade” en “lelie” beteken. Dit staan bekend as Ekspresiewe Bybel en Gebeds Joernaling. “Journaling” in Engels. Ons slagspreuk is: “Maak God se Woord die Huis waarin jy woon”.  Dit is dan in hierdie werkswinkels wat ek my droomboek-proses aan ander vroue oordra.

Ek is baie ingestel op simboliek en beeldspraak met ‘n profetiese aanslag. Om met ‘n geestelike oog na dinge te kyk. Bowenal om met die Heilige Gees se leiding alles te benader. Weereens ‘n visuele benadering natuurlik. Dit wat ek geestelik beleef en wat die Here in my spreek, moet ek konkreet en visueel vir ander kan oordra. God is vir ons “onsigbaar” in ‘n sekere sin en sommige gelowiges sukkel soms om Sy stem te “hoor” of onderskei. Ons sintuie soms so oorweldig deur ons leefwêreld. Ons leef in ‘n fisiese tasbare wêreld en begeer om God ook konkreet en tasbaar te beleef. Hierdie droomboek proses help ons om ons sintuie op ‘n ander wyse in te span en deur dit alles hoop ek om ander te leer dat God die unieke taal van jou hart praat. Jy kan Hom hoorbaar met jou hoor praat en Hy hoor definitief ook vir jou. Sy Woord bevestig dit. 

Dit gaan nie eintlik hier eers vir my werklik oor my storie nie of oor produkte verkoop nie, maar dit gaan vir my eerder daaroor om die Liggaam van Christus, Sy Bruid te ondersteun en help voorberei op Sy koms eendag. Dit gaan ook vir my daaroor om vroue wat in hierdie fisiese wêreld leef, waar hul drome gevorm word deur die visuele stimulasie van die media. Dit hou net groot pyn en teleurstelling in. Ons moet ons eerder kan “her-kallibreer” in lyn met God se droom vir ons lewens – ‘n liefdesverhouding met Hom. Die boodskap wat ons soms mis is dat God ons eintlike Lewensmaat is wat vir ons ‘n ware Hoop en ‘n Toekoms beplan soos in Jeremia 29:11 staan. En dat Hy vir ons ook skoonheid vir ons wêreldse assies wil gee. Jesaja 61. Wanneer ons die Droomgewer prioritiseer bo ons eie drome, dan gee Hy vir ons Sy wonderlike nuwe drome deur Sy Woord in ons harte. Hy sorg dat dit waar word, want Sy Naam is dan op die spel.




My eerste werkswinkel se titel was gepas: “My lewe in ‘n plakboek”.  Ek is ‘n scrapbooker en “memory keeper” (Daar is eintlik nie ‘n lekker Afrikaanse woord hiervoor nie). Ek is ook ‘n Lèèf-tydskrif-vrou. Dit was nog altyd vir my die een tydskrif waarmee ek kan identifiseer en ook nog na ek dit gelees het, gebruik in my droomboek proses. Die inhoud is nie net mooi nie, maar reflekteer die gees van ‘n Gods-vrou, haar passie, ideale, vrou-wees en waardes. Geen ander tydskrif bied werklik vir my heeltemal dieselfde nie. Omdat dit soveel visuele inspirasie en skoonheid bevat gegrond in God se Woord, was dit die tydskrif wat ek gebruik het oor jare om my droomboek mee “in te kleur”. Die nuwe digitale weergawe, is ek bly om te hoor kan steeds in hierdie doel dien omdat jy dit kan uitdruk soveel keer jy wil nadat jy dit afgelaai het.




Die lekkerte van my proses is dat dit gepas is vir enige en elke vrou. Maak nie saak hoe oud jy is nie. Mammas kan dit saam met hul dogters aanpak. Dis nie ingewikkeld nie. Enige vrou op enige stadium van haar lewe kan dit begin. Dis nooit te vroeg of te laat nie. Of jy bid vir die regte man en of jy bid dat jou man gered moet word of werk moet kry of net vir sy geestelike groei. Of jy enkel is of geskei, gebed is altyd die antwoord,want God is die antwoord op gebed. As God die antwoord is, is daar opgesluit in Hom oneindig meer as wat ons kan dink of bid. Is dit nie ‘n wonderlike besef nie? Maak nie saak waarvoor ons bid nie, God wil hê ons moet droom en Hy wil hê ons moet groot droom.

Wat is die droom vir jou lewe?
As jy nie die vraag vandag kan beantwoord nie, het ek baie goeie nuus: Jou droom lewe lê opgesluit in God. Soek Hom uit en praat met Hom. Gee Hom geleentheid om jou te antwoord en jou mooiste drome te help vorm. Jy sal nie spyt wees nie. Daarvan is my lewe ‘n getuienis.

  
Vraag 5:
Hoe werk so ‘n oggend?

1.       Eerstens begin ons met gebed en God se Woord.
2.      Ek gee dan bietjie agtergrond en werk tans aan ‘n boekie wat my storie so bietjie opsom om tyd  te spaar.
3.       Dan verduidelik ek die droomboek proses kortliks.
4.  Daarna is daar ‘n tema wat uit die droomboek kom, wat ek behandel.  Ek het 110 temas geidentifiseer uit my droomboek uit. Elkeen ‘n geloofsles wat God my geleer het. Ek beoog om oor tyd ‘n werkswinkel met kreatiewe inhoud rondom elkeen van hierdie temas te bou. Ek hoop dat dit vroue kan bemoedig en aanmoedig om te bid en God te vertrou vir groot dinge.
5.    Met ‘n plakboek-benadering is daar dan ‘n kreatiewe toepassing vir die tema. Ek gee ‘n basiese skets van die bladuitleg met ‘n stap-vir-stap “tutorial”. Elkeen van die dames ontvang ook ‘n “kit” met mooi papier en elemente wat hul kan uitknip en gebruik. Ek gee ook ‘n paar ou Lèèf tydskrifte wat hul kan gebruik. Ek gee basies die elemente, demonstreer wat ek daarmee gedoen het. Ek gee dan die res van die werkswinkel geleentheid vir elkeen om haar eie hart te illustreer soos wat die Heilige Gees lei. Dit is ‘n stiltetyd met ‘n kreatiewe twist.
6.   Laastens doen ons ‘n terugvoer sessie waar ons deur getuienis mekaar versterk met hoe God in hierdie tyd met elkeen van ons gepraat het en wat dit vir elkeen beteken het.
7.    Ek nooi ook die dames om hul gebeds-behoeftes te deel. Waar twee of meer oor ‘n saak stem en daaroor bid, is God in hulle midde en gee Hy wat hul vra en die gebed van ‘n gelowige het ‘n kragtige uitwerking. Ons sluit dan ook af met ‘n gebed.
Terugvoer na die eerste werkswinkel:


Vraag 6:
Wat gebeur in jou hart as jy op so ‘n nuwe kreatiewe manier met God in gesprek tree?

  • ·         Jy leer om Sy stem duideliker te eien in jou hart.
  • ·         Jy leer om wanneer jy Sy stem hoor, dit te glo.
  • ·         Jy leer dat God in intimiteit met jou wil staan.
  • ·         Jy leer dat God ook vir jou hoor en antwoord. Dit is ‘n tweerigting lewendige verhouding waarop jy kan staatmaak.
  • ·         Dit gee vir jou hart sekuriteit. ‘n Veilige plek waar jou hart tuis kan wees en kan woon – ‘n nuwe huis naby God.




Vraag 7:
Wanneer vind die volgende werskwinkel plaas en waar kan luisteraars hiervoor plek bespreek?

Ons volgende werkswinkel is al die komende naweek, Saterdag 29 Julie, maar ons volgende een sal in Augustus wees.  (Meer inligting op die GraceLilly blad op Facebook)

Ons beplan om so een keer per maand een tema in ‘n werkswinkel  te behandel , afhangend van belangstelling.

Ons laai ook die kits in ons aanlyn winkel om apart bestel te word, sodat dames wat ver is, ook bloodstelling kan kry aan die proses. Die eerste kit is reeds hier beskikbaar om bestel te word. 

Daar is eintlik baie werk wat vir ons voorlê, maar ek hoop om op ‘n stadium genoeg inhoude te hê om ‘n volle kursus beskikbaar te stel. Ek droom groot,want my God is groot, maar dis alles in Sy hande.


KONTAK BESONDERHEDE:
Dis maklik om ons te kontak. Ivytree Studio is op Facebook en ander sosiale media soos Instagram en Twitter en selfs Youtube. GraceLilly het ook ‘n facebook blad. Jy kan ook net Ivytree Studie insleutel op Google en jy sal ons vind by ivytreestudio.co.za.  Ons webtuiste het ‘n maklike kontak vorm en ons epos adres en links na al die sosiale media is ook op ons webblad te vinde. My epos adres is ansu@ivytreestudio.co.za



Vraag 8:
Ansu en Nakkie, ek wil vir julle albei vra: tot hoe ‘n mate kan kreatiwiteit ingespan word om genesing te bring en verlies en pyn meer draaglik te maak.

Ek is nogal passievol hieroor. Ek glo die Here het kreatiwiteit en kuns-uitlewing vir ons gegee om ook die swaar dinge in die lewe op gesonde wyse te verwerk. Emosionele en psigiese pyn is gewoonlik baie moeilik vir mense om te verwoord en vir sensitiewe mense nog meer. Nie almal het die vermoë om oor hul diepste pyn of teleurstellings te praat nie. Met ekstreme trauma gaan ons natuurlik hier nog ‘n paar trappies dieper, en in sommige gevalle is die pyn so intens dat die werklike gebeure onderdruk word en nie eers onthou kan word nie.

As voorbeeld hoe verskillend mense die lewe verwerk:
Ek en my man prosesseer bv. dinge bietjie verskillend: hy intern en ek ekstern. Die twee funksionerings wyses is in konflik met mekaar as ons dit nie reg hanteer en vir mekaar ruimte bied nie. Beide van ons is gelukkig kreatief en waar Henry lief is vir fotografie en skryf en dokumentêre programme kyk, het ek my kuns, plakboeke en skryfwerk.

‘n Voorbeeld uit my eie lewe van hoe kreatiwiteit genesing kan bring:
Deur my kreatiwiteit aan te wend, het ek ook bv. genesing gevind in jarelange pyn rondom my geboorte en verjaarsdag elke jaar. Tydens my ma se swangerskap met my, het sy geweldige emosionele pyn ervaar en dit het op een of ander manier op my wese oorgedra in die baarmoeder.

Ek het in die wêreld gekom met met gevoelens van verwerping wat die Here eers baie jare later sou uitwys. Ek was onbewus van die oorsprong, maar tog het ek dit gedra. My diepste behoefte was altyd aanvaarding en ek het gevoel ek moet baie hard daarvoor werk om dit te “verdien”.

My innerlike gevoel het egter nie gestrook met my uiterlike belewenis van twee liefdevolle ouers wat baie lank vir my gewag en gebid het nie. Vir my mamma was my verjaarsdag net ‘n herinnering aan daardie pyn en tyd in haar lewe en ek dink onbewustelik wou sy dit vermei. Wanneer ek moeite wou doen met die dag, wou sy dit eerder vermei en ongesiens laat verby gaan. Dit het konflik veroorsaak tussen ons. Ek het net geglo dit bevestig die verwerping wat ek reeds voel.

40 is ‘n groot verjaarsdag en in ‘n poging om ‘n ander benadering te hê oor my verjaarsdag, in die hoop op genesing, beplan ek toe om elke maand iets spesiaal te doen op die 24ste, die dag wat ek in Desember sou verjaar. Met klein spesiale projekkies elke maand sou dit dan vir my hopelik daardie genesing bring, maar my mamma se reaksie het vir my dit duidelik gemaak dat dit nie oor my gegaan het of oor my verjaarsdag nie, maar ook wat daardie jaar voor my geboorte met haar gebeur het. As ek sou voort gaan met die projek sou dit meer skade doen as goed. Die Here het dit vir my uitgewys dat dit al die tyd my ma se emosies was wat ek in my rond gedra het, nie my eie nie. Hy het my “toestemming” gegee om dit te laat gaan.

Die Here het my gelei om eerder ‘n plakboek te maak ter viering van my 40ste verjaarsdag met onder andere kosbare ma en dogter oomblikke. Dit sou meer vir my en my ma beteken. Dit het net ‘n paar blaaie geneem om in te sien dat my ma my baie lief het…nog altyd. Ek kon aanbeweeg en sedertdien was my verjaarsdag nog net ‘n vreugde vir ons albei.  

Dus het die kreatiewe proses baie hier beteken. In die stil tye in my studio waar ek besig was met fotos knip en plak, kon die Heilige Gees Sy werk doen. Deur my plakboek kon ek my verjaarsdag herdenk op my manier sonder om my ma skade te doen.

God het my reeds in my moederskoot gekies en geken, eintlik nog voor dit. Hy is my oorsprong en Hy aanvaar my heeltemal en vir Hom is ek genoeg en ek hoef nie dit te verdien nie. My ma het nie geweet hoe om haar pyn te kommunikeer nie en ek het myne nie verstaan nie. Ons kon sedertdien al meer openlik gesels oor dit alles en ek dink die feit dat ons openlik kan wees bring vir beide genesing.

Die proses van Kreatiwiteit kan baie insiggewend wees en daarom is daar dinge soos Kuns Terapie wat mense se diepste pyn kan uitwys sodat ander hul met die regte hulp kan bystaan. Wanneer ons ons pyn suksesvol kan kommunikeer, kan ons vir onsself meer genade gee, meer begrip en insig ook. Dit kan ook lei tot gesonder verhoudings omdat ons ‘n gesonde uitlaatklep vir stres en diep gevoelens vind in die uitlewing van die kuns proses.

Ek voel baie keer as ek stil in my studio besig was vir ‘n paar uur, stap ek ligter daar weg. Dit maak nie eintlik soveel saak wat ek geskep het nie, net dat ek skeppend kon wees. In hoë stres tye help dit om te ontlaai. Terwyl jou hande besig is, kan jou brein prossesseer. Dit help om jou emosioneel te detox en te ontlaai van die wêreld se geraas. Vir hoog sensitiewe mense natuurlik ‘n wonderlike kommunikasie middel. Dit is die gereedskap wat God ons gee om emosioneel gebalanseerd en gesond te bly.

As Opvoeder was ek oor baie jare die getuie hoe kreatitiwiteit die redding was vir kinders wat gepoog het om hul lewens te neem omdat hul emosionele pyn se las vir hul te veel geword het. Met God se genade kon hul ‘n pad daaruit vind terug na ‘n vol lewe. Ek het ervaar hoe kreatiewe aktiwiteite vir kinders hoop gee en ‘n doel gee.

Kreatiewe denke en die kunste stimuleer ons breine. Dit verbreed ons horisonne en help ons om op die mooi van die lewe te fokus.

Dit gee nie net Hoop nie, maar help ons om in vol kleur te leef. Klink dit nie soos God se hart vir ons nie? ‘n Lewe van oorvloed.

Besoek gerus die Kaleido webblad om meer te leer oor die Hoog Sensitiewe en Kreatiewe persoon. Dis hier waar ek hulp aanbied in die vorm van inligting en kuns terapie met 'n spesifieke fokus op hierdie gemeenskap. 



Vraag 9:
Ansu en Nakkie, ter afsluiting - woorde van aanmoediging en motivering vir luisteraars om hul eie kreatiwiteit te ontdek? Waar begin mens as jy nog nooit jou kreatiwiteit ingespan het om die lewe ‘n beter en kleurvoller (en soeter) plek te maak nie?

Begin by God.

Vra Hom wat is Sy kreatiewe padkaart vir jou en jy sal hoor hoe Hy met jou praat.

Hy sal jou aandag begin vestig op dinge wat Hy weet jy sal geniet, omdat Hy jou so goed ken.

Vir my was dit nog altyd papier en alles wat jy daarmee kan doen en op dit kan doen. En dan ook woorde. Dit is ‘n roeping om ander te leer, en ‘n gawe wat sommiges ontvang. Dit is ook my gawe en ek glo ek sal altyd op een of ander wyse by een of ander onderrig-vorm betrokke wees. Om te skryf en aander te bemoedig en aanmoedig is my passie.

Ek glo God wil hê ek moet getrou wees aan my roeping en omdat ek is wie ek is, sal dit ook ‘n voluit kreatiewe lewe insluit. Wanneer ek kreatief is, reflekteer ek ‘n klein deeltjie van my Skepper en Here en dit gee Hom eer. Dit is my lewensdoel.

So, my aanmoediging sou wees glo dat kreatiwiteit in een of ander vorm ook vir jou beskore is. Weet dat dit in jou opgesluit lê en wag om oopgesluit te word. Vra God vir die sleutel en vertrou Hom dat Hy dit vir jou sal gee. Wanneer jy dit gevind het, skat dit na waarde en gee dit die tyd en aandag wat dit verdien.





Visit Ivytree Studio to see more of what we are up to: www.ivytreestudio.co.za
Buy some of our pretty paper here
Connect with the team on our Facebook page here.
Share your Ivytree Studio layouts with us here
Join our #CreativeGirlPrint&PlayClub here
Watch our Youtube channel here.