Dear Gracefilled Lillies/Liewe Genade-vervulde Lelies,
(This post is in Afrikaans)
Hierdie is die teks wat ek voorberei het vir die
Radio Kansel onderhoud waarna Christine Ferreira, Redakteur van die
Lèèf Tydskrif (nou aanlyn
hier beskikbaar), my genooi het. Luister
hier na Christine se program op Radio Kansel elke week:
www.radiopulpit.co.za
Die onderhoud vind
Dinsdag, 25 Julie 2017 plaas tussen
9:00-11:00. Daar sal ook verskeie ander dames wees wat saam gesels, so ons mag dalk nie by al hierdie inhoud uitkom nie. Nogtans deel ek dit hier sodat dit as getuienis dien en iemand se hart kan versterk.
Christine:
Genesis
1:1 “In die begin het God die hemel en die aarde geskep.” Die eerste sin
in die Bybel handel oor kreatiwiteit. God as Skepper.Kreatiwiteit is ‘n
Godgegewe talent. God seën ons elkeen met kreatiwiteit. Sommige meer as ander
natuurlik! Kreatiwiteit kom in verskillende gedaantes. En meeste van ons hunker
daarna om hierdie kreatitwiteit te kan uitleef.
Vraag 1:
Ansu, hoekom is kreatief wees vir jóú belangrik en
hoe kan ons as kinders van God ons eie kreatiwiteit tot volle potensiaal laat
kom?
Ek is bly jy het begin by die Begin, Christine. Ek glo God
is die Oorsprong van alle menslike kreatiwiteit.
Hy besit
die kopiereg op elkeen van ons en op alles wat ons doen. Sy Woord sê dat Hy ons
na Sy beeld geskape het. Ek glo derhalwe dat almal ‘n mate van
kreatiwiteit ontvang het.
Jy
kan dit verwoord as “’n deeltjie van God” in elkeen van ons. Ek glo, omdat ek
oor tyd dit so baie by ander al gehoor het en self skuldig was aan dieselfde
denkpatroon dat meeste mense ‘n leuen glo oor kreatiwiteit, dat hul nie dink
hul is kreatief nie, kan nooit wees nie of dat as hul wel besef hul het
kreatiwiteit in hulle, hulle aangemoedig is deur omstandighede of ander om dit
onder ‘n maat-emmer te sit en dit word nooit ontgin nie.
Dan
is daar natuurlik die trappe van vergelyking wat ons almal al een of ander
stadium geklim het. “Ek sal nooit so kreatief kan wees soos jy nie” of “Hierdie
persoon se kuns is beter as daardie een sin”. Die vergelyking wat ons tref om
een kreatiewe persoon met ‘n ander te vergelyk is ‘n strik wat die vyand vir
ons stel. Dit vernietig die begeerte om self te skep, dit is nie gebaseer op
die waarheid nie, want wat dit eintlik is, is om appels met pere te vergelyk.
Twee
mense kan kreatief wees, maar elkeen van hulle het sy eie unieke duimafdruk en
gawes en temperament ontvang en ook met elkeen het God ‘n unieke plan. Elkeen
mag ook dalk op ‘n ander ontwikkelings punt wees met hul kreatiwiteit. Hoe kan
mens dus vergelyking tref. Dit doen soveel skade.
As
onderwyser was dit een van die dinge wat ek telke male in my klaskamer gesien
het en moes aanspreek dat kinders hul nie met hul maats vergelyk en dan ophou
probeer nie. Sekere outjies onderpresteer want hul sien nie hul potensiaal nie,
het nie ouers wat hul aanmoedig nie, maar eerder afbreek. Dit was my werk en is
ook my passie om die leuens van die duiwel oor ons lewens te ontbloot en die
waarheid aan die lig te bring:
- ·
Ja, ons is almal na God se beeld geskep.
- ·
Ja, ons kan almal kreatief wees, want God is
kreatief.
- · Nee, die een persoon is nie meer kreatief as die
ander nie, want ons is nie kopieë van mekaar nie, maar unieke skepsels geskape
deur ‘n unieke Vader wat ons nie in ‘n boksie kan sit nie. Soms dink ek omdat
ons nie God werklik kan beskryf nie, of in ‘n netjiese boksie kan plaas nie,
probeer ons dit met mekaar doen en dit doen soveel afbreek aan Sy plan met ons
elkeen. Daarom is ek passievol oor kreatiwiteit en die uitlewing daarvan.
Hoe kan ons ons kreatiwiteit tot volle
potensiaal laat kom?
1.
Besef dis nooit te laat om te begin nie.
2. Besef
ook dat as jy soos so baie mense dit vir jare ontken het, nie geglo het jy kon
nie, dit binne in jou toegesluit is. Dis
is daar maar jy het denkpatrone daaroor gevorm en jy sal doelbewus en aktief
nuwe denkpatrone hieroor moet vorm en vir God vir die sleutel vra om dit te
gaan soek diep binne jou en dit oop te sluit. ‘n Nuwe denkpad in jou brein word
gevorm die oomblik dat jy ‘n nuwe gedagte koester, en ten minste 7 x herhaal.
Sidaar: ‘n nuwe pad in jou brein. Die ou paaie dat jy nie kreatief is nie, is
vir baie jare dalk verleng en oor en oor bevestig en jy sal dit moet verbysteek
met nuwes.
Dit het my ‘n paar jaar
geneem om werklik te hou by my voorneme om voluit in my kuns te belê. Ek moes
nuwe denkwyses kweek en inoefen. Die eerste wet van leer is: herhaling. Ek lê
klem hierop, want dit is so ‘n groot hekkie om te oorkom as jy nie eers dink jy
is kreatief nie, gaan jy nie kreatief kan wees nie.
3. Goed,
kom ons sê jy is oor hierdie hekkie. Volgende moet jy jou “huiswerk” begin
doen. Jy moet op ‘n soektog gaan en om dit sinvol te maak, begin deur jouself
‘n paar vrae te vra:
·
Wat geniet jy om te doen?
·
Wat kom natuurlik vir jou?
·
Wat doen jy spontaan al van kleintyd af?
·
Waarin stel jy belang?
·
M.a.w. “Wie is jy?”
·
Vra ook sommer die mense naaste aan jou die
vrae. Hul antwoorde kan dalk insiggewend wees.
Begin dan ‘n lysie van
dinge wat jy graag sou wou leer doen en raak nuuskurig daaroor. Kosmaak, Handwerk
(Naaldwerk, Boorduur, Hekel, Brei), Tuinwerk, Skryf of Dig, Teken en Skilder,
Binnehuise versiering, Een of ander vorm van ontwerp. Enige iets wat jou trek –
begin daaroor lees. Die internet is jou biblioteek. Bemagtig jouself met
kennis. Lees, kyk video’s, ens. Dis ‘n
begin.
Kom ek gebruik myself as voorbeeld: (Onderwysers hou daarvan om wat
hul sê met voorbeelde te staaf)
Ek skryf gedigte wat ek
hoop getoonset kan word, ek is lief vir musiek en sing van ek kan onthou. Ek is
lief vir mense en het ‘n gawe vir woorde ontvang. My breinprofiel sê ek moet
betaal word om te praat. Ek het begin dig op 15 en het al verskeie kortverhale
geskryf. Ek het verskeie blogs wat ek aan die gang hou, so skryf is ‘n
natuurlike uitvloei van my woorde-talent. Ek hou van kosmaak, ek kan naaldwerk
doen en hou van die ontwerp proses. Ek het op ‘n stadium krale werk gedoen,
maar dit het my frustreer. Ek het brei en hekel uitprobeeer, maar dis ook nie
my ding nie. Ek het verskillende kuns mediums uitprobeer oor jare, maar kon nie
besluit op watter medium om op te fokus nie totdat ek “Mixed Media” (Gemenge
Media) ontdek het. Hierdie konsep het my soos ‘n handskoen gepas. Hoekom moet
ek kies as ek die reëls kan breek en verskillende mediums kan meng met mekaar? Ek
het ook ‘n liefde vir mooi papier van ek ‘n dogtertjie was en ek is ‘n kaartjie
maker. Ek is ook ‘n “memorykeeper & scrapbooker” van kleins af. Ek hou van
portret studies omdat ek ‘n mens-mens is. Paar jaar gelede het ek met my eie
unieke kunswerkies begin waar ek mooi papier, akriel verf, pen, potlood meng en
vroulike gesiggies verf. Ek het aan my eerste groeps uitstalling deelgeneem in
2014 saam met ‘n paar ander plaaslike kunstenaars by die Saxonwold gallery. Dit was baie opwindend om aan so iets deel te
neem vir die eerste keer.
Hoe het ek begin? Ek het
baie ander mixed media kunstenaars begin bestudeer en baie geleer, maar op die ou
end was die resultaat my unieke duimafdruk. Ek beklemtoon dit net weer dat mens nie moet vergelyk nie en ek wil graag
illustreer hoekom nie. In my studie van ander vroulike mixed media kunstenaars,
het ek iets agtergekom. As jy ‘n foto van elke kunstenaar neem en dit langs hul
kuns plaas, en jy tref nie vergelyking tussen een kunstenaar en ‘n ander nie,
maar eerder tussen die kunstenaar en sy of haar eie kuns, dan sien jy dit. Die
kuns reflekteer die kunstenaar en sy uniekheid. Die poppies wat elkeen van
daardie kunstenaars geskilder het, het soos hulle skepper gelyk. Eienskappe van die kunstenaar se wese het vir
my terug gekyk en van toe af kyk ek anders na my eie kuns. Dis uniek tot my en God het dit so bedoel en nou
geniet ek elke oomblik.
4. Laastens,
versamel idees deur navorsing. Picasso het gesê, jy steel met die oog en
Einstein het gesê: die sleutel tot kreatiwiteit is om nie jou bronne openbaar te maak nie. Ons oë neem soos ‘n kamera alles
in waarna ons kyk en liaseer dit in die brein. Dit wat ons inneem, word deel
van ons verwysingsraamwerk. Dis dan ook belangrik om versigtig te wees met wat
jy inneem, want dit het ‘n impak op jou kreatiwiteits uitlewing of kuns.
Neem nou al die idees wat
jy versamel het en begin dit uit probeer. Speel daarmee totdat jy jou eie
duimdruk vind en dan spandeer jy tyd om dit te ontwikkel.
Vir my persoonlik is dit
belangrik dat al hou ek my besig met dinge wat ander ook doen soos om te skryf
of skilder, moet dit my uniekheid reflekteer. Dit moèt anders wees, want ek is
anders. Die wete gee vir my vreugde.
Die oomblik as jy jou
uniekheid, jou andersheid kan omhels, dan bring jy God eer en kom Sy plan vir
jou tot volle potensiaal. As jy nie eers probeer nie, of ander slaafs na-aap,
mis jy die punt en ek persoonlik dink dit breek God se hart.
Elkeen van ons is ‘n
spesiale teëltjie in God se groot Mosaïk en ons het ‘n plekkie waar ons presies
inpas. Kreatiwiteit is die voertaal waarmee ons vir God sê: ons sal Hom groot
maak, ons sal die waarheid oor ons potensiaal en doel in die lewe, glo en nie
die leuen nie. Ons sal voluit leef in die oorvloed lewe wat Jesus ‘n duur prys
voor betaal het. Dit is hoekom
kreatiwiteit vir my belangrik is.
Vraag 2:
Vertel
ons meer van die kreatiewe werk waarmee jy jou elke dag besig hou?
Ek het begin as onderwyser,
maar as kind gedroom van modeontwerp. Later as volwassene, toe my beroep my
begin uitbrand, het ek my genetiese breinprofiel laat toets in die hoop dat ek
‘n alternatief sou kon vind. Dit het sekere dinge oor my natuurlike
funksionering uitgewys o.a. dat ontwerp ‘n absolute natuurlike denkproses by my
is.
As onderwyser is dit deel van
jou taak om leer-inhoude te skep en dit is ‘n ontwerp proses. Ek het Kuns en
Kultuur as vak begin onderrig en my hoof het opgemerk dat my wese geblom het
toe ek hiermee begin. Ek was betrokke by die kultuur aktiwiteite by elke skool
waar ek gewerk het en oral het my kreatiwiteit na vore gekom en kon dit oor tyd
ontwikkel deur die bloodstelling aan hierdie aktiwiteite. Ek het gehelp revue
konserte afrig, groentjie konserte skryf en afrig, kunstefeeste reël,
skoolkoerante ontwerp en redaksioneel bestuur, bemarkings materiaal ontwerp
ens. My belangstelling in grafiese ontwerp en al hierdie bloodstelling oor 20 jaar
sou later vir my die uitkoms bied weg van die onderwys af. Die Here het geweet
ek het aan die einde van ‘n seisoen gekom en het lank voor dit reeds my begin
voorberei. In 2008 het ek besluit om die onderwys te verlaat. Daarna sou ek ‘n
paar keer weer probeer, maar dit was nooit weer dieselfde nie.
Vir bykans ‘n dekade al het
die Here vir my gelei op ‘n heel nuwe avontuur met my huwelik en ‘n nuwe status
quo in my werkslewe. Vandag is ek mede-eienaar en algemene bestuurder van
Ivytree Studio. Dis ‘n ontwerp studio hier in Pretoria en ons fokus op die
ontwerp van kwaliteit produkte en inhoude vir die kreatiewe gemeenskap en
industrieë in SA.
Ivytree Studio het eintlik al in 2000 tot stand gekom, met
heelwat projekte en besigheids kliënte vir wie ons werk gedoen het, maar kon
eers tot sy reg kom toe ek en my man ‘n paar jaar terug ons weer kom vestig het
in SA.
Ek is ook baie gelukkig om
geseënd te wees met ‘n
kunstenaar sussie, Surita as vennoot wat saam met my die pad kan
loop. Sy het ‘n ongelooflike talent en ek sê altyd sy is Ivytree Studio se
“geheime wapen”.
Ons is tans besig met verskeie
projekte, waarvan Ivytree Elements ons papier reeks, een is. Ons ontwerp mooi
scrapbook papier in ‘n standaard grootte en in ons eerste jaar hiermee het ons
reeds 6 reekse agter die blad. Ons het ook ‘n
aanlyn winkel en lewer landswyd
af. Die papier is iets waarop ons ons kuns kan reflekteer en dit wat vir ons
mooi is in die lewe en dit is ook ‘n manier waarop ons ander kan bemoedig en
inspireer. Elke vel papier word met baie
liefde en passie ontwerp. Ons bring ook Afrikaanse elemente in elke reeks uit wat
ons uniek maak en ons poog dat ons temas by die Suid-Afrikaanse mark en kutuur
pas. Ek het nogal ‘n ding daaroor dat my plakboeke moet my leefwêreld en eie
kultuur reflekteer.
Tipies in my aard kan ek nie
vashaak net by een projek nie en is altyd besig met iets nuuts. Van die ander
projekte waarmee ons besig is, is onder andere
Happy go Artsy werkswinkels en klasse waar ons klas-gangers bloodstelling gee aan dinge soos ons Mixed Media
kunswerke, scrapbooking, kaartjies maak ens.
Dit is dan ook hier waar ons met ons mooi papier speel en waar my onderwys
ervaring handig te pas kom.
Ons ontwerp ook
digitale produkte van scrapbook kits, kaartjie kits, dagboek/planner produkkies
ensomeer. Ons droom van ons eie unieke skryfbehoefte reeks. Die konsep is
eintlik maar enige iets waarop ons ons kuns kan plaas.
Ander projekte wat meer persoonlik is, is
Kaleido Kuns Terapie wat reeds sy eie webblad het. Dis deur Kaleido wat ek die Hoog Sensitiewe en Kreatiewe gemeenskap wil dien met Kuns terapie en hulp wanneer die wêreld te hard vir hul raas.
Dan laastens is daar die GraceLilly werkswinkels wat ons in hierdie onderhoud oor sal gesels. Hier is fotos van hoe lekker die dames gesit en skep het tydens ons eerste werkswinkel in Junie vanjaar:
|
Hier het die Here na afloop van my aanbieding, wat ek oor getuig het vir een van die dames, Christelle Hartzer, 'n skrifgedeelte gegee om dit te bevestig wat ek besig was om vir die dames te leer. Prys die Here vir Sy getroudheid. |
|
God se Woord is die Huis waarin ons moet woon. |
Die uitdagings in hierdie
huidige ekonomiese klimaat is maar soms stresvol en vir kunstenaars om deur besigheid, ‘n lewe
te probeer maak, is nie al dag maklik nie. Die Here leer ons egter om in noue
afhangklikheid met Hom die pad saam te loop.
Vraag 3:
Jy
span kreatief wees in om in gesprek met God te tree en as’t ware ‘n tasbare
vorm van gebed te word. Vertel ons meer van jou persoonlike reis hieromtrent.
Dis ‘n byna 18 jaar storie,
maar ek sal my bes probeer om dit op te som.
Op 9 het ek my eerste gebed
vir my lewensmaat gebid. My pappa, wat ‘n baie belangrike rol nog altyd in my
geestelike pad met God speel, het een aand voor slaaptyd in my kamer kom nagsê
en ‘n stelling gemaak. “Het jy geweet dat jy nou al vir jou lewensmaat kan
begin bid?” Ek kan nie onthou wat ek gebid het nie, maar dis waar dit alles
begin het.
Ek was ‘n skaam meisie en
seuns was nie hoog op my prioriteits lys nie. Veral nie nadat ek in Graad 7 erg
geterg is deur een outjie nie. Dit het my baie onstel en toe ek raad vra by my
pa, het hy met groot wysheid dit uitgewys dat al wat ek hoef te doen is om die
mannetjie te ignoreer, want seuns van daardie ouderdom wat van ‘n meisie hou,
tree so op. Eerder as om hul ware gevoelens te deel, terg hulle die meisie wie
se aandag hul begeer. Ek het nie gedink my pa weet waarvan hy praat nie, maar
ek was raadop en probeer dit toe. Die kind het dadelik opgehou met sy tergery.
Dit was my eerste les oor die teenoorgestelde geslag. Ek het nooit op skool
belang gestel om ‘n kêrel te hê soos my maats nie en na my bekering op 15 het
ek gereeld getuig dat ek wag vir daardie een man wat God vir my gaan uitkies.
In my mid 20’s het ek tog vir die eerste keer verlief geraak en vir 3 jaar my
hart belê in die hoop dat die Here die man vir my sou gee. Ek was oortuig dit
was die man van my drome, maar die Here het van beter geweet en op ‘n baie
spesifieke oomblik het Hy my van die houvas wat dit op my hart gehad het bevry.
Ek was steeds onaangeraak en God het my bewaar vir iemand anders.
Dit was 2000. Ek was reeds 27.
Ek het altyd gehoop dat ek darem teen 25 al getroud sou wees. Meeste van my
vriende was min of meer al getroud en het met gesinne begin. Dit het toenemend
gevoel dat ek begin agter bly. In advies van my pa en nog iemand, het ek ‘n
“droomboek” begin waarin ek meer spesifiek en gefokus kon bid vir my lewensmaat
en ander drome. My pa is die een by wie ek my plakboek-genygdheid ge-erf het.
Hy doen al jare sy Bybelstudie op hierdie wyse deur tydskrifte ens te gebruik
om God se Woord aan Hom te illustreer. My pa is ook ‘n bidder en
gebedsendeling. Onderwysers het nie baie geld vir allerhande dinge nie en jy
leer om te gebruik wat jy het. Ek het toe sommer in ‘n gewone skoolboek begin.
Ek het aanvanklik nie baie gedink oor die “hoe” van die proses nie. Ek het net
gevoel dit moet meer wees as net ‘n joernaal van my gedagtes. Dit het my gebede
op papier bevat, konkreet en God se Woord as fondasie om dit krag te gee. Ek
wou sien hoe lyk my drome en daarom het ek dit ook geillustreer deur prentjies en
teks uit tydskrifte by te voeg. Dit moet visueel wees, want ek dink in
prentjies. Die boek het ontwikkel oor ‘n 17 jaar periode tot ‘n baie kragtige
gebedsstrategie. Ek trek al by my 3de boek. Die resultate daarvan ‘n werk wat
God doen in my deur hierdie proses. Jy sien, vir die Here gaan dit meer oor Sy
verhouding met my en myne met Hom en om deur die proses met my intimiteit te
bou. As ek dan kies om my verhouding met Hom te prioritiseer, sal Hy deur Sy
Woord en Gees die regte drome in my hart lê EN my soontoe lei.
|
Oman Desert 2008 |
Die Here het uiteindelik my
droom man gebring, maar Hy het gevra dat ek Hom 8 jaar lank vertrou en geduldig
wag vir Sy beste sonder dat ek altyd kon sien of dit wel sou gebeur. Ek het
Isak en Rebekka se verhaal gekies om in my droomboek in te werk as die tipe
verhaal wat ek graag so wou hê. Ek het tot ‘n gedig daaroor geskryf. Die Here
het dit net so gegee. Ek moes soos Rebekka, God ten volle vertrou dat as Hy my
in die “woestyn” in lei, sal Hy die regte “Isak” vir my gee en Hy het. In 2008
op wonderbaarlike wyse het God my man gegee, maar ek moes my werk bedank, my
sekuriteit opgee, my kar verkoop, my familie onbepaald agter laat en letterlik
in ‘n fisiese woestyn in die land van Oman (Midde Ooste) my man gaan haal. Ons
het reeds vroeër in SA ontmoet, maar Henry het werk gekry in Sudan en toe later
Oman en ons moes maar so via die internet kommunikeer. Die Here het gevra ek
moet in geloof spring. In Desember 2008 is ons toe terug in SA getroud. Nog
iets wat wys hoe God in die details is, is dat ek altyd gehoop het ek kan my
maat ten minste ‘n volle jaar ken voor ons trou. Ek en Henry het in Januarie
ontmoet en ons is in Desember getroud. Ons het dit nie so beplan nie, maar God
het dit so laat uitwerk. Hy het ons storie geskryf, nie ek nie.
Daar is baie detail wat ek
uitlaat, maar ons storie stop nie hier nie en daarom is die droomboek steeds so
belangrik, want wat ek geleer het is hoe kragtig en belangrik is gebed saad in
die grond. Dit neem soms jare vir daardie oes om te realiseer. Die wag tyd en
bid tyd is egter net so belangrik soos die oes tyd. Daar gebeur baie in die wag
tye. Ons karakters word gebou in die wag tye en God berei ons voor vir die oes
tye. Dit was ook so in my geval.
Meeste vrouens droom ook net
oor die rok en die mooi dag en die regte blomme ens. Daar is wel ‘n afdeling
hiervoor in my boek, maar vir my was dit nooit die rede vir die boek of die
fokus nie. Dit was nog altyd vir my belangriker om seker te maak dat dit die
regte maat is. Die ander dinge het tog eintlik geen ewigheidswaarde nie. Nog
belangriker vir my was dat die Here die finale keuse uitoefen, want as jy vir
God die keuse oorlaat, gee Hy altyd vir jou die heel beste. Ek het besef as ek
moet kies, sal ek dalk verkeerd kies.
Vandag is ek oortuig daarvan
dat my jare se gebede vir my eggenoot, my wag en trane en bid in daardie boek, baie
belangrik was in tye wat Henry dit baie nodig gehad het en dit was alles toe ek
nog nie eers sy naam geken het nie. Iewers was daar iemand wat vir Hom gebid
het en baie spesifiek ook. God het my getrouheid en passie gebruik om vir hom
in te tree en dit het hom beskerm en hom terug gelei na God en Sy hart vir hom.
Vandag leef my man as geredde kind van God met sy doel veilig opgesluit in die
Here en ons kyk met opgewondenheid na die toekoms omdat ons saam oppad is met
die Here. My man is ‘n man na God se hart en hoe nader hy aan die Here kom, hoe
nader groei ons aan mekaar. Ons is nou byna 10 jaar getroud en die volgende
droom is kindertjies van ons eie en op 43 lyk dit soos ‘n onmoontlike
droom, maar ons glo steeds die Here kan
die onmoontlike doen en ‘n pad in die see van onmoontlikheid gee, waar daar nie
‘n pad is nie.
Omdat die droomboek-pad so ‘n
ryk ervaring vir my was, en my geloofslewe verryk en gevorm het, en omdat ek
ook voel God roep my hiertoe, wil ek graag wat ek geleer het met ander deel om
hul ook in hul eie pad met die Here te versterk. Daai stem in jou hart wat sê:
“Nou goed, nou gaan deel jy dit met ander.”
VRAAG 4:
Jou
“My lewe in ‘n plakboek”-werkswinkels is ‘n spesiale werkswinkel waartydens jy
deelnemers op ‘n kreatiewe geestelike reis neem. Vertel ons meer?
GraceLilly is die handelsmerk waaronder ons hierdie werkswinkesl aanbied en dit word aangebied deur
IvytreeStudio. Betekenis van “GraceLilly”:Dit is eintlik maar net my naam wat “genade”
en “lelie” beteken. Dit staan bekend as Ekspresiewe Bybel en Gebeds Joernaling.
“Journaling” in Engels. Ons slagspreuk is: “Maak God se Woord die Huis waarin
jy woon”. Dit is dan in hierdie
werkswinkels wat ek my droomboek-proses aan ander vroue oordra.
Ek is baie ingestel op
simboliek en beeldspraak met ‘n profetiese aanslag. Om met ‘n geestelike oog na
dinge te kyk. Bowenal om met die Heilige Gees se leiding alles te benader.
Weereens ‘n visuele benadering natuurlik. Dit wat ek geestelik beleef en wat
die Here in my spreek, moet ek konkreet en visueel vir ander kan oordra. God is
vir ons “onsigbaar” in ‘n sekere sin en sommige gelowiges sukkel soms om Sy
stem te “hoor” of onderskei. Ons sintuie soms so oorweldig deur ons leefwêreld.
Ons leef in ‘n fisiese tasbare wêreld en begeer om God ook konkreet en tasbaar
te beleef. Hierdie droomboek proses help ons om ons sintuie op ‘n ander wyse in
te span en deur dit alles hoop ek om ander te leer dat God die unieke taal van
jou hart praat. Jy kan Hom hoorbaar met jou hoor praat en Hy hoor definitief
ook vir jou. Sy Woord bevestig dit.
Dit gaan nie eintlik hier eers
vir my werklik oor my storie nie of oor produkte verkoop nie, maar dit gaan vir
my eerder daaroor om die Liggaam van Christus, Sy Bruid te ondersteun en help
voorberei op Sy koms eendag. Dit gaan ook vir my daaroor om vroue wat in
hierdie fisiese wêreld leef, waar hul drome gevorm word deur die visuele
stimulasie van die media. Dit hou net groot pyn en teleurstelling in. Ons moet
ons eerder kan “her-kallibreer” in lyn met God se droom vir ons lewens – ‘n
liefdesverhouding met Hom. Die boodskap wat ons soms mis is dat God ons
eintlike Lewensmaat is wat vir ons ‘n ware Hoop en ‘n Toekoms beplan soos in
Jeremia 29:11 staan. En dat Hy vir ons ook skoonheid vir ons wêreldse assies
wil gee. Jesaja 61. Wanneer ons die Droomgewer prioritiseer bo ons eie drome,
dan gee Hy vir ons Sy wonderlike nuwe drome deur Sy Woord in ons harte. Hy sorg
dat dit waar word, want Sy Naam is dan op die spel.
My eerste werkswinkel se titel
was gepas: “My lewe in ‘n plakboek”. Ek
is ‘n scrapbooker en “memory keeper” (Daar is eintlik nie ‘n lekker Afrikaanse
woord hiervoor nie). Ek is ook ‘n Lèèf-tydskrif-vrou. Dit was nog altyd vir my
die een tydskrif waarmee ek kan identifiseer en ook nog na ek dit gelees het,
gebruik in my droomboek proses. Die inhoud is nie net mooi nie, maar reflekteer
die gees van ‘n Gods-vrou, haar passie, ideale, vrou-wees en waardes. Geen
ander tydskrif bied werklik vir my heeltemal dieselfde nie. Omdat dit soveel
visuele inspirasie en skoonheid bevat gegrond in God se Woord, was dit die
tydskrif wat ek gebruik het oor jare om my droomboek mee “in te kleur”. Die
nuwe digitale weergawe, is ek bly om te hoor kan steeds in hierdie doel dien
omdat jy dit kan uitdruk soveel keer jy wil nadat jy dit afgelaai het.
Die lekkerte van my proses is
dat dit gepas is vir enige en elke vrou. Maak nie saak hoe oud jy is nie.
Mammas kan dit saam met hul dogters aanpak. Dis nie ingewikkeld nie. Enige vrou
op enige stadium van haar lewe kan dit begin. Dis nooit te vroeg of te laat
nie. Of jy bid vir die regte man en of jy bid dat jou man gered moet word of
werk moet kry of net vir sy geestelike groei. Of jy enkel is of geskei, gebed
is altyd die antwoord,want God is die antwoord op gebed. As God die antwoord
is, is daar opgesluit in Hom oneindig meer as wat ons kan dink of bid. Is dit
nie ‘n wonderlike besef nie? Maak nie saak waarvoor ons bid nie, God wil hê ons
moet droom en Hy wil hê ons moet groot droom.
Wat is die droom vir jou lewe?
As jy nie die vraag vandag kan
beantwoord nie, het ek baie goeie nuus: Jou droom lewe lê opgesluit in God.
Soek Hom uit en praat met Hom. Gee Hom geleentheid om jou te antwoord en jou
mooiste drome te help vorm. Jy sal nie spyt wees nie. Daarvan is my lewe ‘n
getuienis.
Vraag 5:
Hoe
werk so ‘n oggend?
1. Eerstens
begin ons met gebed en God se Woord.
2. Ek
gee dan bietjie agtergrond en werk tans aan ‘n boekie wat my storie so bietjie
opsom om tyd te spaar.
3. Dan
verduidelik ek die droomboek proses kortliks.
4. Daarna
is daar ‘n tema wat uit die droomboek kom, wat ek behandel. Ek het 110 temas geidentifiseer uit my
droomboek uit. Elkeen ‘n geloofsles wat God my geleer het. Ek beoog om oor tyd
‘n werkswinkel met kreatiewe inhoud rondom elkeen van hierdie temas te bou. Ek
hoop dat dit vroue kan bemoedig en aanmoedig om te bid en God te vertrou vir
groot dinge.
5. Met
‘n plakboek-benadering is daar dan ‘n kreatiewe toepassing vir die tema. Ek gee
‘n basiese skets van die bladuitleg met ‘n stap-vir-stap “tutorial”. Elkeen van
die dames ontvang ook ‘n “kit” met mooi papier en elemente wat hul kan uitknip
en gebruik. Ek gee ook ‘n paar ou Lèèf tydskrifte wat hul kan gebruik. Ek gee basies die elemente,
demonstreer wat ek daarmee gedoen het. Ek gee dan die res van die werkswinkel
geleentheid vir elkeen om haar eie hart te illustreer soos wat die Heilige Gees
lei. Dit is ‘n stiltetyd met ‘n kreatiewe twist.
6. Laastens
doen ons ‘n terugvoer sessie waar ons deur getuienis mekaar versterk met hoe
God in hierdie tyd met elkeen van ons gepraat het en wat dit vir elkeen beteken
het.
7. Ek
nooi ook die dames om hul gebeds-behoeftes te deel. Waar twee of meer oor ‘n
saak stem en daaroor bid, is God in hulle midde en gee Hy wat hul vra en die
gebed van ‘n gelowige het ‘n kragtige uitwerking. Ons sluit dan ook af met ‘n
gebed.
Terugvoer na die eerste
werkswinkel:
Vraag 6:
Wat gebeur in jou hart as jy op so ‘n nuwe
kreatiewe manier met God in gesprek tree?
- ·
Jy leer om Sy stem duideliker te eien in jou
hart.
- ·
Jy leer om wanneer jy Sy stem hoor, dit te glo.
- ·
Jy leer dat God in intimiteit met jou wil staan.
- ·
Jy leer dat God ook vir jou hoor en antwoord.
Dit is ‘n tweerigting lewendige verhouding waarop jy kan staatmaak.
- ·
Dit gee vir jou hart sekuriteit. ‘n Veilige plek
waar jou hart tuis kan wees en kan woon – ‘n nuwe huis naby God.
Vraag 7:
Wanneer vind die volgende werskwinkel plaas en waar
kan luisteraars hiervoor plek bespreek?
Ons volgende werkswinkel
is al die komende naweek, Saterdag 29 Julie, maar ons volgende een sal in
Augustus wees. (Meer inligting op die
GraceLilly blad op Facebook)
Ons beplan om so een keer
per maand een tema in ‘n werkswinkel te behandel
, afhangend van belangstelling.
Ons laai ook die kits in
ons
aanlyn winkel om apart bestel te word, sodat dames wat ver is, ook
bloodstelling kan kry aan die proses. Die eerste kit is reeds hier beskikbaar om bestel te word.
Daar is eintlik baie werk
wat vir ons voorlê, maar ek hoop om op ‘n stadium genoeg inhoude te hê om ‘n
volle kursus beskikbaar te stel. Ek droom groot,want my God is groot, maar dis
alles in Sy hande.
KONTAK BESONDERHEDE:
Vraag 8:
Ansu
en Nakkie, ek wil vir julle albei vra: tot hoe ‘n mate kan kreatiwiteit
ingespan word om genesing te bring en verlies en pyn meer draaglik te maak.
Ek is nogal passievol
hieroor. Ek glo die Here het kreatiwiteit en kuns-uitlewing vir ons gegee om ook
die swaar dinge in die lewe op gesonde wyse te verwerk. Emosionele en
psigiese pyn is gewoonlik baie moeilik vir mense om te verwoord en vir
sensitiewe mense nog meer. Nie almal het die vermoë om oor hul diepste pyn of
teleurstellings te praat nie. Met ekstreme trauma gaan ons natuurlik hier nog
‘n paar trappies dieper, en in sommige gevalle is die pyn so intens dat die
werklike gebeure onderdruk word en nie eers onthou kan word nie.
As voorbeeld hoe verskillend
mense die lewe verwerk:
Ek en my man prosesseer bv.
dinge bietjie verskillend: hy intern en ek ekstern. Die twee funksionerings
wyses is in konflik met mekaar as ons dit nie reg hanteer en vir mekaar ruimte
bied nie. Beide van ons is gelukkig kreatief en waar Henry lief is vir
fotografie en skryf en dokumentêre programme kyk, het ek my kuns, plakboeke en
skryfwerk.
‘n Voorbeeld uit my eie lewe van
hoe kreatiwiteit genesing kan bring:
Deur my kreatiwiteit aan
te wend, het ek ook bv. genesing gevind in jarelange pyn rondom my geboorte en
verjaarsdag elke jaar. Tydens my ma se swangerskap met my, het sy geweldige
emosionele pyn ervaar en dit het op een of ander manier op my wese oorgedra in
die baarmoeder.
Ek het in die wêreld
gekom met met gevoelens van verwerping wat die Here eers baie jare later sou
uitwys. Ek was onbewus van die oorsprong, maar tog het ek dit gedra. My diepste
behoefte was altyd aanvaarding en ek het gevoel ek moet baie hard daarvoor werk
om dit te “verdien”.
My innerlike gevoel het
egter nie gestrook met my uiterlike belewenis van twee liefdevolle ouers wat
baie lank vir my gewag en gebid het nie. Vir my mamma was my verjaarsdag net ‘n
herinnering aan daardie pyn en tyd in haar lewe en ek dink onbewustelik wou sy
dit vermei. Wanneer ek moeite wou doen met die dag, wou sy dit eerder vermei en
ongesiens laat verby gaan. Dit het konflik veroorsaak tussen ons. Ek het net
geglo dit bevestig die verwerping wat ek reeds voel.
40 is ‘n groot
verjaarsdag en in ‘n poging om ‘n ander benadering te hê oor my verjaarsdag, in
die hoop op genesing, beplan ek toe om elke maand iets spesiaal te doen op die
24ste, die dag wat ek in Desember sou verjaar. Met klein spesiale projekkies
elke maand sou dit dan vir my hopelik daardie genesing bring, maar my mamma se
reaksie het vir my dit duidelik gemaak dat dit nie oor my gegaan het of oor my
verjaarsdag nie, maar ook wat daardie jaar voor my geboorte met haar gebeur
het. As ek sou voort gaan met die projek sou dit meer skade doen as goed. Die
Here het dit vir my uitgewys dat dit al die tyd my ma se emosies was wat ek in
my rond gedra het, nie my eie nie. Hy het my “toestemming” gegee om dit te laat
gaan.
Die Here het my gelei om
eerder ‘n plakboek te maak ter viering van my 40ste verjaarsdag met onder
andere kosbare ma en dogter oomblikke. Dit sou meer vir my en my ma beteken.
Dit het net ‘n paar blaaie geneem om in te sien dat my ma my baie lief het…nog
altyd. Ek kon aanbeweeg en sedertdien was my verjaarsdag nog net ‘n vreugde vir
ons albei.
Dus het die kreatiewe
proses baie hier beteken. In die stil tye in my studio waar ek besig was met
fotos knip en plak, kon die Heilige Gees Sy werk doen. Deur my plakboek kon ek
my verjaarsdag herdenk op my manier sonder om my ma skade te doen.
God het my reeds in my
moederskoot gekies en geken, eintlik nog voor dit. Hy is my oorsprong en Hy
aanvaar my heeltemal en vir Hom is ek genoeg en ek hoef nie dit te verdien nie.
My ma het nie geweet hoe om haar pyn te kommunikeer nie en ek het myne nie
verstaan nie. Ons kon sedertdien al meer openlik gesels oor dit alles en ek
dink die feit dat ons openlik kan wees bring vir beide genesing.
Die proses van Kreatiwiteit
kan baie insiggewend wees en daarom is daar dinge soos Kuns Terapie wat mense
se diepste pyn kan uitwys sodat ander hul met die regte hulp kan bystaan.
Wanneer ons ons pyn suksesvol kan kommunikeer, kan ons vir onsself meer genade
gee, meer begrip en insig ook. Dit kan ook lei tot gesonder verhoudings omdat
ons ‘n gesonde uitlaatklep vir stres en diep gevoelens vind in die uitlewing
van die kuns proses.
Ek voel baie keer as ek
stil in my studio besig was vir ‘n paar uur, stap ek ligter daar weg. Dit maak
nie eintlik soveel saak wat ek geskep het nie, net dat ek skeppend kon wees. In
hoë stres tye help dit om te ontlaai. Terwyl jou hande besig is, kan jou brein
prossesseer. Dit help om jou emosioneel te detox en te ontlaai van die wêreld
se geraas. Vir hoog sensitiewe mense natuurlik ‘n wonderlike kommunikasie
middel. Dit is die gereedskap wat God ons gee om emosioneel gebalanseerd en
gesond te bly.
As Opvoeder was ek oor
baie jare die getuie hoe kreatitiwiteit die redding was vir kinders wat gepoog
het om hul lewens te neem omdat hul emosionele pyn se las vir hul te veel
geword het. Met God se genade kon hul ‘n pad daaruit vind terug na ‘n vol lewe.
Ek het ervaar hoe kreatiewe aktiwiteite vir kinders hoop gee en ‘n doel gee.
Kreatiewe denke en die
kunste stimuleer ons breine. Dit verbreed ons horisonne en help ons om op die
mooi van die lewe te fokus.
Dit gee nie net Hoop nie, maar
help ons om in vol kleur te leef. Klink dit nie soos God se hart vir ons nie?
‘n Lewe van oorvloed.
Besoek gerus die Kaleido webblad om meer te leer oor die Hoog Sensitiewe en Kreatiewe persoon. Dis hier waar ek hulp aanbied in die vorm van inligting en kuns terapie met 'n spesifieke fokus op hierdie gemeenskap.
Vraag 9:
Ansu
en Nakkie, ter afsluiting - woorde van aanmoediging en motivering vir
luisteraars om hul eie kreatiwiteit te ontdek? Waar begin mens as jy nog nooit
jou kreatiwiteit ingespan het om die lewe ‘n beter en kleurvoller (en soeter)
plek te maak nie?
Begin by God.
Vra Hom wat is Sy
kreatiewe padkaart vir jou en jy sal hoor hoe Hy met jou praat.
Hy sal jou aandag begin
vestig op dinge wat Hy weet jy sal geniet, omdat Hy jou so goed ken.
Vir my was dit nog altyd
papier en alles wat jy daarmee kan doen en op dit kan doen. En dan ook woorde.
Dit is ‘n roeping om ander te leer, en ‘n gawe wat sommiges ontvang. Dit is ook
my gawe en ek glo ek sal altyd op een of ander wyse by een of ander
onderrig-vorm betrokke wees. Om te skryf en aander te bemoedig en aanmoedig is
my passie.
Ek glo God wil hê ek moet
getrou wees aan my roeping en omdat ek is wie ek is, sal dit ook ‘n voluit
kreatiewe lewe insluit. Wanneer ek kreatief is, reflekteer ek ‘n klein deeltjie
van my Skepper en Here en dit gee Hom eer. Dit is my lewensdoel.
So, my aanmoediging sou wees glo
dat kreatiwiteit in een of ander vorm ook vir jou beskore is. Weet dat dit in
jou opgesluit lê en wag om oopgesluit te word. Vra God vir die sleutel en
vertrou Hom dat Hy dit vir jou sal gee. Wanneer jy dit gevind het, skat dit na
waarde en gee dit die tyd en aandag wat dit verdien.
Buy some of our pretty paper here
Connect with the team on our Facebook page here.
Share your Ivytree Studio layouts with us here
Join our #CreativeGirlPrint&PlayClub here.
Watch our Youtube channel here.